Ons Doleer – Wat beteken dit?

Ons Doleer – Wat beteken dit?

4th Aug 2021 Uncategorised 0

NGK Suiderhof – ons ‘kairos’ moment

Daar is twee woorde vir ‘tyd’ in Grieks: “kairos” en “chronos” – “chronos” is die verloop van tyd soos wat ons dit elke dag ervaar, terwyl “kairos” ‘n spesifieke oomblik in die verloop van tyd is. Wanneer “kairos” gebruik word soos in die opskrif hierbo dui dit op ‘n oomblik wat ’n spesifieke aksie van jou vereis – ’n vurk in die pad waar ’n rigting gekies moet word, ’n waterskeiding wat gaan bepaal hoe dinge vir jou van nou af vorentoe lyk. Ons het in die NG kerk by so ’n moment gekom waar gemeentes ’n keuse gaan moet maak oor die pad vorentoe – so ook ons eie gemeente.

Na afloop van die 2015 besluit wat die Algemene Sinode (afkorting: AS) geneem het ter goedkeuring van selfdegeslag-verhoudings (afkorting: SGV) en die bekragtiging daarvan op die 2019 AS het ’n groot klomp gemeentes gevoel dat hul siening en oortuiging hieroor nie verteenwoordig is deur die AS se besluit nie (ook dat hul beswaarskrifte t.o.v. die besluit nie die nodige agting gekry het nie) en dat hulle hul nie by daardie besluit kan skaar nie. Hierdie besluit is egter bloot ’n simptoom van ’n baie groter ‘siekte’ in die NG kerk wat oor ’n paar dekades kom, nl. liberale/progressiewe teologie (wat dit alles behels sal vêrder in hierdie dokument verduidelik word.)

Daar is verlede jaar (2020), in samewerking met Moreletapark gemeente, ’n netwerk van gemeentes gevestig wat ooreenstemmend glo en dink in hierdie verband, genaamd ‘Kairos Netwerk’. Daar is toe besin oor die moontlikhede vir die pad vorentoe vir die gemeentes binne hierdie netwerk, met betrekking tot hul verhouding met die AS. Tans is die gevoel dat die beste pad is om soveel moontlik gemeentes aan te moedig om te ‘doleer’.

  • Wat is doleer? Dit is ‘n amptelike besluit (’n standpunt inname) van die kerkraad van ’n gemeente, waarin die gemeente aan hul ring, streek-sinode en ook die AS meedeel dat hulle ’n spesifieke saak of die algehele stand van sake in die kerk ‘betreur’ of daaroor rou. Die doel van dolering is persoonlike en gemeenskaplike verootmoediging voor God, bekering, en om terugkeer na die gesonde Bybelse leer te bewerk. ’n Gemeente doleer vir solank as wat verootmoediging, bekering en die terugkeer van die groter geheel nie plaas vind nie. Lees gerus die inhoud van die onderstaande twee skakels vir ’n meer omvattende verstaan van wat dolering behels.

Net ter wille van absolute duidelikheid: die ± 76 gemeentes wat tans dolerend is in die NG kerk betreur nie bloot die besluit oor SGV van 2015 en 2019 as onskriftuurlik nie, maar die totale omvang van die onskriftuurlike liberale/progressiewe rigting waarin die NG kerk leierskap die kerk begin meesleur het deur die afgelope 20 jaar, en wat tans besig is om op verskeie maniere uit te kristalliseer in die AS se beleid en VERAL in die teologiese opleiding van predikante. Hieronder is ‘n kort motivering en bespreking van hierdie ‘kairos moment’ waar voor ons te staan gekom het.

Lees die artikel hieronder aangeheg ter agtergrond en verdere motivering vir die inhoud en voorstel van hierdie inligtingstuk:

Gebruik ook hierdie skakel na die ‘NG Kerkorde van Namibië 2015’ om die hieropvolgende verwysings na ‘artikels (art.)’ en ‘bepalings’ na te gaan.

Die taak van ’n NG gemeente se kerkraad: Art. 26 Bepaling 26.1.9 “die bestudering van die kerk se leer en ander aktuele sake en voorligting aan die gemeente (vgl. Art 56);”

  • M.a.w. een van ons kerkraad se primêre verantwoordelikhede is om toe te sien dat God se Bybelse waarheid suiwer aan ons lidmate oorgedra word en om toe te sien dat hulle dit suiwer uitleef: dit is die wesenlike getuienis van die dinge waarvan ons oortuig is. (Fil. 2:15, Rom.  10:10, Matt. 28:20)

Die sameloop van omstandighede wat ons gebring het tot by die kruispad waar voor ons te staan gekom het:

  • Ons is geskep en geroep met die uitsluitlike doel om gehoorsaam te wees aan God (Ef. 1:4 & 2:10). Dit impliseer dat ons die waarheid van sy Woord verstaan, voorstaan, dit uitleef en alle leer wat met dit in stryd is teëstaan (2 Tim 3:16-17, 2 Pet. 1:20-21). Hierdie Waarheid is die enigste weg na die Lewe (Matt. 7:14, Joh. 10:10 & 14:6). Christelike en Bybelse liefde vereis dat ons mekaar en ander aan die hand van HIERDIE waarheid vashou (Joh. 13:34), geen ander “waarheid” nie.
    1. Die Algemene Sinode (AS) en leiers van die NG kerk het vanaf 2002:
      •  ’n stelselmatige, doelgerigte afwatering en ontheiliging (dus ontmagtiging) van God se Woord aangevoer en toegelaat. Stellings soos “die Bybel is nie ‘God se woord’ nie maar slegs ‘mense woorde oor God’ en dus ‘feilbaar, naïef en foutief’” is op publieke platforms gemaak deur predikante, kerkleiers en akademici. Hierdie uitsprake is onaangespreek gelaat deur ons kerkstrukture wat, volgens ons belydenisskrifte, die teenoorstaande siening onderskryf en die bewakers daarvan moet wees.
      • besluite geneem wat lynreg in stryd is met God se skeppingsorde en Christelike etiek wat God aan ons in sy woord openbaar, bv. selfdegeslag verbintenisse [lees huwelike] word amptelik gelegitimeer – selfs onder predikante – en ’n formulier is daarvoor geskryf, homoseksuele gedrag word ontsondig, die bestaan of nie-bestaan van die ‘duiwel en bose’ word onderhewig gestel aan individuele voorkeur, saambly voor die huwelik word gekondoneer, die aanspreek van God as ‘moeder’ word gekondoneer, verdedig en aangemoedig ens.
      • geweier/gesloer/onvermoë getoon om leer-tug toe te pas teen prominente predikante, kerklui en akademici wat kern geloofswaarhede openlik ontken/verdraai, bv. Gen. 3 se sondeval en gevolglik die inherente sondigheid van alle mense en hul behoefte aan ’n Verlosser (Rom 3:20-24), Jesus se maagdelike geboorte, Jesus se Goddelikheid, die plaasvervangende aard van sy kruisdood, Jesus se liggaamlike opstanding (1 Kor. 15:1-3 & 15:12-14), die Goddelike inspirasie van die Skrif, dat God geskep het (nie ’n blinde, doellose evolusionêre proses nie), die eksklusiwiteit van Jesus as enigste weg tot verlossing ens. Hierdie ontmagtiging/verdraaiing van God se Woord en sy Evangelie is ook oorgedra aan lidmate en het al meer voorskriftelik geraak vir teologiese studente wat as NG predikante opgelei word.
    2. Die gevolgtrekking wat ons hieruit kan maak, wat ons by hierdie ‘kairos’ moment gebring het is: die AS verkondig en verdra ’n ‘ander evangelie’,[1] wat in stryd is met die Evangelie van Jesus, soos geopenbaar aan- en vertolk deur die Bybelskrywers (Gal 1:6-7, Jud. 1:17-18, 2 Tim. 4:3-4) – ’n evangelie wat nie kan red nie, wat nie oorvloedige lewe kan bring nie, waarin Jesus verniet gesterf het, en wat geen hoop bied op die liggaamlike opstanding en ’n ewige lewe by God nie.
    3. Ons probleem: Elke NG gemeente is kerkordelik gebind aan die besluite van die AS, ongeag hoe ons daaroor voel.
    4. Ons word ook, as lede van die NG kerk familie, deur publieke opinie geskaar onder die vaandel van die AS se handeling en geestelike identiteit, of ons gemeente met hul handeling en geestelike identiteit saamstem of nie. (sien art. 43 ‘die taak van die AS’) – “julle is mos die NG kerk!” hoor ek by mense.

Psalm 11:3 “As die fondamente ondermyn word, wat kan die regverdige daaraan doen?”

Wat staan ons te doen

Hier volg die uiteensetting van die  korttermyn-proses waarvoor ons gekies het: (Sien ook Kairos Netwerk se verskeie ander opsies met hul implikasies hier)

  1. Die kerkraad het op 2 Augustus 2021 in beginsel besluit dat ons Gemeente amptelik gaan doleer, t.o.v.
    1. die AS se onskriftuurlike handeling deur die loop van die laaste 20 jaar, maar wat veral vanaf 2015 onbeskaamd van God se Woord, ons belydenisse en Christelike ortodoksie afgewyk het,
    2. die rampspoedige rigting waarheen hierdie handeling van die AS met gemeentes op weg is, en die publieke getuienis wat dit ten toon stel – waardeur ons gemeente, as deel van die NG kerk familie, ook geïmpliseer word
    3. sowel as die ooglopende versuim/onvermoë van die AS en NGK leierskap om die volgende aspekte van ons lering en publieke getuienis in lyn te bring met die NG Kerk se amptelike teologiese beleid:
      1.  Grondvlak praktyk en uitlatings van predikante en kerkleierskap,
      2. Hul onskriftuurlike lering in gemeentes,
      3. Akademici se uitsprake en publieke handeling
      4. Liberale teologiese opleiding van nuwe predikante en
      5. Die aandadigheid van kweekskool kuratoria aan punt iii. en iv.
  2. Die kerkraad het in beginsel besluit dat ons as gemeente ’n versoek rig aan die Kairos Netwerk, om formeel deel te word van die doleansie van (huidiglik) 76 NG gemeentes in Suid-Afrika en Namibië, genaamd ‘Familie van Reformerende Gemeentes’ (FRG). Hierdie familieverband/netwerk binne die NG kerk sal DV amptelik deur die Kairos Netwerk gevestig word einde Oktober 2021 – dit sal heel moontlik, i.t.v. struktuur, op dieselfde wyse as ’n streeksinode funksioneer, maar funksioneel meer soos ’n netwerk (ons bly dus steeds deel van die Namibiese sinode), en sal ons help met die pad vorentoe – waartoe dit ook al mag lei.
  3. Die kerkraad het in beginsel besluit dat ons ’n beskrywingspunt rig aan die Namibiese sinode vergadering van Maart 2022, waarin ons die beskrywingspunt wat reeds deur die noorde-ring van Namibië ingedien is bekragtig, in oproep tot art. 37 van die kerkorde. Die doel van hierdie beskrywingspunt is die versoek om as Namibiese sinode uit die algemene sinodale verband te tree en ‘n outonome sinode te word, wat nie meer gebind is aan die besluite, handeling en geestelike identiteit van die AS nie.
    1. Artikel 37 lui as volg: “Dit staan die samestellende kerke [sinodes] vry om met behoud van alle regte, voorregte, besittings, naam, ensovoorts, uit die algemene sinodale verband te tree wanneer hulle so ’n stap voor God in die lig van sy Woord kan regverdig.”

Belangrike logistieke reëlings voordat die beginsel besluit van die Kerkraad, om te doleer, amptelik in werking tree:

  1. Hierdie inligting stuk, sowel as ’n meer omslagtige agtergrond inligtingstuk (sien link onderaan eerste bladsy) word onder alle Suiderhof lidmate versprei (sien skakels onderaan bl.1). Die doel is om ons lidmate in te lig van die besluit wat geneem is deur die Kerkraad, die redes daarvoor en die pad vorentoe, en om daarin as gemeente saam in Christus hierdie wêreldse invloed in ons kerk die hoof te bied en reg te stel
  2. Daar word tot en met 30 Augustus 2021 tyd gegee vir vrae, getuienis en terugvoer van die gemeente af – daar sal ook minstens drie inligtingsessies gehou word by die kerk, waarin lidmate geleentheid sal kry om enige vrae of voorstelle te kom aanmeld – die datums en tye sal spoedig gekommunikeer word. E-posse in dié verband kan gerig word aan dubois@ngksuiderhof.com en geskrewe dokumentasie kan by die kantoor afgelewer word. Indien geen van hierdie opsies vir u werkbaar is nie kontak gerus een van die predikante.
  3. Op 30 Augustus 2021 sal die kerkraad weer vergader om die beginsel besluit te bekragtig en die amptelike kommunikasie na ons ring, die Namibiese Sinode en ook die Algemene Sinode toe te stuur

Belangrike praktiese oorwegings

  • Die besluit om te doleer berus kerkordelik ten volle by die kerkraad, maar ons wil ons gemeentelede so volledig moontlik betrek, inlig en toerus t.o.v. die proses.
    1. Eensgesindheid van lidmate t.o.v. ons besluit is vir ons die primêre prioriteit, sowel dat ons gemeente as ’n hegte eenheid hierdie pad saam vorentoe sal stap.
    2. Ons prioritiseer daarom gesprekke en geleenthede vir getuienis en terugvoer met lidmate, sodat almal gehoor en so goed moontlik ingelig sal wees oor die redes en implikasies van ons kerkraad se besluit.
    3. Nuwe strukture sal gevestig word om hierdie proses in gebed te voer en lidmate ten volle toe te rus om eienaarskap te neem van die proses, as vennote in ons gemeente se roeping.
  • Ons kerkraad moet nog besin of ons gemeente gedeeltelike, of alle sinodale fondse (eweredige bydraes) gaan weerhou tydens dolering – soos dit ons reg is, om ons dolering/betreuring duideliker ‘hoorbaar’ te maak.
  • Indien wel, sal ons praktiese reëlings tref oor hoe ons steeds die instansies gaan ondersteun wat deur hierdie fondse onderhou word.

’n Pastorale woord

Hierdie voorstel word nie ligtelik gemaak nie. Al vier van Suiderhof se betrokke predikante is reeds lankal ‘dolerend’, in persoonlike hoedanigheid, oor die situasie in die NG kerk die afgelope jare.

Ons besef wel dat hierdie stap (wat ons in geloofs- en gewetens-oortuiging neem) ’n kollig op Suiderhof gemeente, haar leierskap en haar lidmate se getuienis gaan plaas. Ons besef ook dat hierdie ’n proses gaan wees waarin ons elkeen ongemaklike gesprekke gaan moet hê en dat daar selfs vervreemding van lidmate en ook tussen party Namibiese predikante kan plaasvind (dit sal egter ten sterkste vermy probeer word). Ons verstaan dat dit van ons gaan vra om onsself in te grou en toe te rus om op Bybelse gronde die aantygings en kritiek wat verseker GAAN kom te kan beantwoord. Ons wil egter saam met die groot hervormer, Martin Luther, verklaar “hier staan ek, ek kan nie anders nie, so help my God.”

Ons besef ook dat daar – te verstane – kritiek uitgespreek kan word oor die tydsberekening van hierdie besluit; veral in die lig van die Covid situasie. Ons glo wel dat die uitleef van ons Christelike verantwoordelikheid (wat vir ons primêr staan) afstam van ons oortuiging van die Christelike waarheid en dus nie daarsonder staande kan bly nie (in teologies-tegniese taal: etiek is onderhewig aan dogma) – Christelike waarheid wat tans ernstig in die gedrang is in ons kerkverband.

Ons begin daarom hierdie proses omdat ons graag, op holistiese vlak, ‘n Skrifgetroue kerk wil wees: in belydenis, belewenis en getuienis.


[1] Sien J. Gresham Machem se boek – ‘Christianity and Liberalism’, sowel Scott David Allen se boek – ‘Social Justice is not Biblical Justice’ en Alisa Childers se boek – ‘Another Gospel’

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *