Familie bediening (Versorging, familie ervaring, omgee)
Die versorging van lidmate is ’n belangrike taak van die gemeente. Om as familie na mekaar om te sien en by mekaar betrokke te wees is ’n baie hoë prioriteit. Verskillende aksies gee hieraan aandag:
HelpLift
Die aksie speel ’n geweldige rol as barmhartigheidsaksie in die gemeente. Die fokus van die bediening is om mense in nood en mense wat wil help om nood te verlig, bymekaar uit te bring.
Hoe om betrokke te raak:
· Die HelpLift koördinerings span vergader weekliks op ’n Maandagoggend om 10h00. Enigeen is welkom om hier te kom inskakel.
· Versorging van behoeftige gesinne: Onder leiding van Koekoes Aggenbach word 2 keer per maand kos aan gemiddeld 30 gesinne regoor Windhoek voorsien. Sy besoek hulle vooraf persoonlik om die behoeftes te identifiseer. Verdere hulp vir mediese, skool, werk, sielkundige probleme word aangespreek deur ’n span van kundiges wat met die tyd betrokke geraak het om te help.
· Skole: Ons is betrokke by verskeie skole om op verskillende vlakke kos, boeke, ondersteuning te gegee aan behoeftige kinders by Suiderhof en Pionierspark laerskole, asook aan DHPS. Met Witkop Skool 50km suid van Rehoboth word onder leiding van Koekoes en haar oorlede man Gert, al jarelank ’n besondere pad gestap. Danksy ’n baie bekwame skoolhoof gaan dit tans baie goed daar.
· Shelter by Moedergemeente: HelpLift koördineer ’n groep van omtrent 20 lidmate wat beurte maak om twee dae per week ’n gekookte ete aan die tussen 20-30 inwoners van die shelter te voorsien. Ons voorsien die meeste van die onverwerkte kos aan die kosmakers.
· Gawie Joubert: Hy is ’n sendeling wat op New-Xanagas (net oos van Buitepos in Botswana) vir baie jare bedien het. Hy is lankal by aftree-ouderdom verby maar het daar aangebly om verder daar te woon en te dien. Hy het nie kerklike pensioen of veel ander ondersteuning nie en HelpLift help om sy mediese fonds in stand te hou.
· Kos voorraad: Aangesien daar baie kos op verskillende plekke nodig is, is daar ’n hele netwerk van besighede en persone wat help voorsien. Daar is bv. ’n kameelperd se vleis teen minimale koste aan ons verkoop (700kg uitgeslag!)
· Knie kombersies: Om mense in moeilike situasies te ondersteun, word hierdie persone besoek en ’n knie kombersie persoonlik aan so iemand oorhandig. Die gemeente word gevra om met die brei van die kombersies te help en elke keer word daar mooi voorsien.
· Senior lidmate se Swakop toer: As deel van ons hulp aan ons senior lidmate word die toer vanuit HelpLift gereël. Ons dra finansieel by, doen ’n klomp skakelwerk om die program te beplan en te laat vlot en dan gaan van die lede saam om te help met praktiese reëlings, kosmaak, vervoer en veral liefdevolle versorging.
· Oude Rust: Ons is voortdurend in kontak met Oude Rust (ouetehuis) om hulp te verleen en saam te beplan. So bv. het ons einde laas jaar geskenkpakkies aan al die personeel uitgedeel (meer as 100!)
· Maerua kinderhuis: Twee van die lede dien in die bestuur van die kinderhuis wat in ons gemeente grense geleë is. Daar is ook baie goeie skakeling met die personeel van die kinderhuis om behoeftes van kos en klere en ander behoeftes aan te spreek (en uit te ruil!)
· Meals on Wheels: Dit is ’n organisasie van die 7e Dag Adventiste wat in ons gemeentegrense ’n kombuis het wat aan ’n hele aantal bejaardes kos teen ’n baie lae prys voorsien. Op verskeie maniere is ons al jare daar betrokke – lidmate wat help kook, help aflewer, voorrade voorsien. Die afgelope tyd het ons betrokkenheid daar heelwat afgeskaal a.g.v. interne veranderings by hulle kerk.
· Kos in nood: ’n Voorraad gevriesde etes word gehou om te voorsien in behoeftes wat skielik opduik. Andersins word onderling gereël om etes te voorsien aan mense wat skielik onder druk kom met gelieftes wat bv. in die hospitaal land, afsterwe ens…
· Persoonlike betrokkenheid: Van die lede is ook nog op hulle eie betrokke by ander bedienings en vanuit ons begroting word hulle dikwels ondersteun. Ons moedig lidmate aan om self nood raak te sien en HelpLift kan hulle dan ondersteun om ’n verskil te begin maak.
Maak kontak:
- Chrisna van Zyl (+264) 81 241 8292
- Ds. Evert Strydom (+264) 81 128 0757