Suiderhof Gemeente se visie is: “Suiderhof gemeente stel God en sy Koninkryk bo alles, en bemagtig leiers en lidmate om elke dag sy dissipels te wees.”
Ons het vier gemeente waardes wat dien as roetemerkers in die uitvoer van ons visie: Gasvry, Gemeenskap, Groei, en Getuig.
Vanuit ons visie en ons waardes verstaan ons dat ons geroep is om ‘n gemeente te wees wat na binne én buite gerig is: na binne, om mekaar in gemeenskap te koester, te bemoedig en aan te spoor tot geestelike en inhoudelike groei, met die doel dat ons, volgens Jesus se groot opdrag tot dissipelmaking in Matt. 28:18-20, met impak en fokus na buite gerig kan leef.
Ons gemeente is oortuig dat die Bybel die Woord van God is (dat dit God se woorde, waarheid, beginsels en voorskrifte bevat wat lewend en kragtig in die hede inspreek) en is sterk begrond in die beginsels van die reformasie:
- Genade alleen (sola gratia)
- deur Geloof alleen (sola fide)
- in Christus alleen (solus Christus)
- volgens die Skrif alleen (sola Scriptura)
- tot Eer van God alleen (soli Deo Gloria)
Ons is dus ook oortuig van die Skriftuurlikheid van ons 3 gereformeerde formuliere van eenheid (Die Heidelbergse kategismus, Nederlandse geloofsbelydenis en die Dortse leerreëls), sowel as die 3 ekumeniese belydenisse (Die Apostoliese geloofsbelydenis, Die geloofsbelydenis van Atanasius en die Geloofsbelydenis van Nicea).
Ons gemeente – as mense wat steeds elke dag God se genade en onderrig nodig het – is ernstig daaroor dat ons alle mense verwelkom om saam met ons as geloofsgemeenskap tot God te nader, met die verstaan dat God deur sy Heilige Gees elkeen van ons tot inkeer roep, met die doel om ons te konformeer tot-/gelyk te maak aan die Beeld van sy Seun Jesus.