Beloftes by die vuuroond
Lees Dan. 3:14-29.
Kyk of julle die gaping kan oorbrug tussen die Bybelse storie van die drie jongmanne voor én in die vuuroond, en die Here se boodskap hieruit spesifiek vir julle in julle praktiese situasies vandag. (Sny gerus hieronder uit soos julle goed dink, omdat dit dalk lank kan neem as julle alles deeglik gaan deurwerk. Punt 1 gaan oor die druk van die omgewing; Punt 2 oor die suiwerheid van ons geloof/vertroue in God, die Heerser oor alles; Punt 3 oor die Here se beloftes en lewenskoers vir ons in lyding.)
- Die drie jongmanne van Dan. 3 was onder geweldige druk om in te pas by hoe dinge in Babilonië gedoen word. Op watter maniere word Christene vandag gedruk en verlei deur die gemeenskap rondom ons? Dink bv. aan die terreine van sosialisering by jongmense of in die volwasse wêreld, besigheid, huwelike, moraliteit, godsdiens en kerk en Bybel, ens.
- Dis nie net mense van buite wat ons druk nie. Vir solank ons nog op aarde leef, sit Christene ook nog met ‘n agent van die ou natuurlike lewe binne-in ons (vgl. Jer. 17:9; Jak. 1:14-15; Ef. 2:1-3 saam met 4:17, 22-24). Dis eintlik hierdie ou-lewe agent wat vatbaar is vir die drukkrag van buite. Maar dikwels is dit bloot hierdie eie ou natuurlike binne-druk wat my laat vou. Deel met mekaar maniere waarop ons ou selfgesentreerde koninkryk hierbinne my nie volgens my ware ewige lewe in Jesus laat leef nie, sodat ek nie in Hom floreer nie. (Kyk bv. na Luk. 12:15, 21; Jak. 3:13-16; 4:6; Ef. 4:25-31; dink nog verder aan voorbeelde en verse.)
- Watter uitweg en antwoord op al die drukkings bied die Here ons in
- Dan. 3 se voorbeeld
- Hand. 7:56-60 se voorbeeld
- Gal. 2:19b-20
- Matt. 28:18-20; Ef. 4:11-16; 17-24; 5:18-21; 6:1-4; Gal. 5:13-26?
- Baie Christene dien die Here vir wat hulle uit Hom kan kry, nie vir Homself nie.
- Gesels oor hoe ons dikwels die Here dien eintlik net vir wat ons by Hom kan kry vir ons eie lewe en nie vir Wie Hy is nie; nie omdat Hy dit werd is en omdat ons Hom liefhet vir Homself nie.
- Gesels oor die suiwerheid van die drie jongmanne se geloof in God, soos dit duidelik uitwys in hulle gedrag voor die koning en die vuuroond – vgl. Dan. 3:17-18. Verwys ook na wat Jesus ons leer in Luk. 10:27 en Ef. 2:5-11.
- Gesels oor Jesus wat in ons plek deur die vuuroond van God, die hel, gegaan het. En wat die gevolg daarvan vir ons is wat “in Hom” is, wanneer ons soos die drie jongmanne van Dan. 3 in vuuroond-situasies beland (sien Dan. 3:25, 28) – of sommer soos ons deur hierdie hele aardse vuuroond-lewe leef.
- Waarom moet ons dit nie waag om enige situasie “buite” en sonder die Here Jesus te betree of aan te pak nie? (Vgl. Joh. 15:4-5.)
- Die Here Jesus het die vernietigende krag van enige en alle vuur uitgehaal en gebruik dit nou tot ons voordeel en tot uitbreiding van Sy koninkryk. Gebruik die volgende gedeeltes om perspektief te bring in hoe die Here ons binne ons klein makgemaakte oondjies (al voel dit soms vir ons erg) versorg en gebruik.
- Job 5:7 en 1 Petr. 4:12
- 1 Pet. 1:6-7
- Lyding vervorm baie Christene eerder as om hulle geloof te suiwer. Wat moet ons doen om as suiwerder en mooier goud anderkant lyding uit te kom – om al meer soos Jesus te word? (Verwys bv. na Luk. 10:27; Heb. 13:4-6; Jes. 43:1-5; asook die gesprek hierbo onder 1b.)
As jy jou eie menslike ideale en gemaksones agterlaat twv om as dissipel saam met Jesus op pad te gaan deur elke dag, dan stap jy met oop oë saam met Jesus in die vuuroonde in, uit die gerieflike veilige hawens uit na die oopsee en storms, om daar saam met Hom die verskil te gaan maak soos Hy dit graag wil doen. Soos Paulus se lewe ook demonstreer. (Vgl. bv. 2 Tim. 1:6-12.)