Gespreksraamwerk 1 Kronieke 29:1-20

Gespreksraamwerk: 1 Kronieke 29:1-20
Uitkomste: Ons erken dat God bo almal verhewe is en dat alles aan Hom behoort, ook ek en alles wat ek het. Ons verstaan wat dit beteken om met “oop hande” voor God te leef. Ons almal prys die Here ons God.
Inleiding
- Hierdie tyd van die jaar, met die hitte en die gejaag en alles wat moet afsluit, verg baie van ons. Gee elkeen ’n beurt om te vertel hoe dit gaan.
- Wat is die gemoedstoestand van die mense om julle? Is hulle positief en dankbaar of vol kla en sien net die negatiewe dinge raak?
______________________________________________________________________________
Teks: 1 Kronieke 29:1-20
- Lees 1 Kronieke 29:1-20. Gesels oor die agtergrond van die gedeelte. (Dawid is aan die einde van sy lewe. Hy wou baie graag ’n tempel vir die Here bou maar die Here het gesê dat sy seun Salomo dit moet doen. Dawid skenk dan ’n groot deel van sy rykdom as bydrae vir die bou van die tempel en roep sy leiers en die volk op om dieselfde te doen. Hy eindig dan met ’n Dankgebed aan God wat dit alles moontlik gemaak het.)
- In Dawid se gebed in 29:10-19 word ’n hele aantal dinge oor God gesê. Noem vir mekaar en laat iemand ’n lys byhou van wat julle alles raaksien wat Dawid sê oor wie God is. Gesels daaroor en probeer dit saamvat in 3 belangrike dinge wat ons oor God hier leer.
- Lees weer 29:1-9. Kyk na die laaste deel van vs 5 “wie is nog gewillig om vandag sy hand oop te maak met ’n gawe aan die Here?”. Lees dit in verskillende vertalings en kyk hoe daar eintlik twee verskillende betekenisse vir hierdie deel gegee word.
- As dit direk vertaal word, staan daar “wie is bereid om vandag sy hand te vul vir die Here”. Die betekenis hieragter was leë hande wat na die Here toe uitgesteek is. Daarmee is gesê: Ek het niks om uit my eie aan te bied nie, alles behoort aan U en ek kan net gee wat U aan my gegee het. God vul dus my hande met dit wat ek vir Hom gee.
- Die leë hande wat uitgesteek word na God het ook die betekenis gehad van: Ek offer myself aan die Here sodat Hy my hande, en alles wat ek is, kan gebruik – dus ’n simbool van toewyding aan die Here. Daarom vertaal die 2020 vertaling bv. “wie is bereid om hom vandag aan die Here toe te wy.”
- Gesels oor wat die gedeelte vir ons sê as ons dink oor ’n Dankfees waar ons ’n finansiële offer aan die Here bring.
- Die byeenkoms waar Dawid met die volk praat en waar Hy sy Dankgebed doen, eindig waar hy vir die volk sê (beveel!) “Prys nou die Here julle God!” Doen dit nou….
- Na aanleiding van wat julle by vraag 2 gesê het oor Wie God is – prys en dank Hom daarvoor…
- Dink na oor alles wat die Here julle God vir julle gee (julle hand volmaak) en prys en dank Hom daarvoor.
- Wat is daar nog waaroor julle die Here ons God wil dank en prys? Doen dit nou…