Eksodus 33:12-23 ‘Ons kan God ken’
Uitkomste: Ons verstaan dat die Bybel die geskiedenis van God se openbaring aan ons weergee – uiteraard leer ken ons algaande met die verloop van sy openbaring. God se wil en karakter is dus nie ’n misterie – onkenbaar en onverstaanbaar (soos sy Wese) nie. Jesus het gesê as ons Hom gesien het en Hom leer ken het, het ons God gesien en God leer ken.
______________________________________________________________________________
- Inleiding
- Hoe sou jy reageer op die volgende stelling: ons kan God nie ken nie en ook nie sy wil nie – Hy is net te groot en onverstaanbaar?
- Is die onderskeid tussen God se onverstaanbare en onbegryplike wese, teenoor sy verstaanbare en begryplike wil en karakter ‘n onderskeid wat jy vanuit die Bybel kan ondersteun?
______________________________________________________________________________
- Teks
- Lees Eksodus 33:12-23
- Dink jy dit was uit vermetelheid of familiariteit met God dat Moses die vraag gewaag het of God Homself aan Moses sou wys?
- Was God se onwilligheid om sy gesig vir Moses te wys ’n teken dat Hy verskuil en onkenbaar wou bly?
- Lees Hebreërs 1:1-3 en Johannes 14:2-10
- Wanneer jy hierdie tekste lees, wat is die gevaar daaraan om kennis oor God se wil en karakter slegs/meestal uit die Ou-Testament te haal eerder as uit die Nuwe-Testament?
- Hoekom sou “as jy vir Jesus ken ken jy vir God” ’n goeie gevolgtrekking wees om te maak uit hierdie tekste?
- Lees Handelinge 17:16 & 22-23
- Op watter wyse praat hierdie teks met Christene wat meen dat God se wil en karakter onkenbaar is?
______________________________________________________________________________
- Toepassing
- Hier volg die NG kerk se Alegemene Sinode besluit oor selfdegeslag-verhoudings
- Op watter wyse spreek hierdie besluit van die tipe Godsverstaan en Skrifverstaan wat sê dat ons God se wil en karakter nie kan ken nie
- Die Algemene Sinode 2023,
1.1 het kennis geneem van al die verslae, beskrywingspunte en gravamina oor die besluit van die Algemene Sinode 2019 oor selfdegeslagverbintenisse. Hierdie stukke was vooraf in die agenda opgeneem en is aan die vergadering voorgelê;
1.2 het na aanleiding van hierdie dokumente opnuut ‘n openhartige geloofsonderskeidende gesprek oor die 2019-besluit gevoer. Daar is onder andere in kleiner tafelgesprekke én in die groter vergadering na ‘n verskeidenheid van standpunte geluister;
1.3 het onder die indruk gekom van verwarring, verwonding en vervreemding wat deur baie lidmate oor ’n lang tydperk in hierdie proses beleef is. Ons is opreg jammer dat dít gebeur het;
1.4 erken dat daar ’n diepe verdeeldheid hieroor in ons kerkverband bestaan. Dit belemmer ons meelewing met mekaar, ons getuienis oor die versoening in Christus, en ons vervulling van ons roeping; en
1.5 het óók bewus geword dat daar ‘n opregte verlange in ons Kerk leef na groter eensgesindheid in ons getuienis en roeping nou, al ís ons in hierdie saak nie eenstemmig nie.
- Die Algemene Sinode 2023 bevestig
2.1 dat ons voortgesette nadenke, gesprek en besluitneming oor menslike seksualiteit en selfdegeslagverbintenisse, ten diepste voortvloei uit ons belydenis oor die Skrif as Woord van God. Ons gebed is dat wanneer ons dit lees, ons deur God gelei sal word tot meer geduld met mekaar, ’n beter verstaan van sy boodskap aan ons, en ‘n groter afhanklikheid van God; en
2.2 dat ons nadenke, gesprek en besluitneming oor selfdegeslagverbintenisse binne die raamwerk van ons Kerkorde én die grondwet en regstelsels van ons onderskeie lande geskied. Daarin word die beginsels van nie-diskriminasie, die waardigheid van alle mense en die vryheid van geloofsoortuiging en -assosiasie beskerm.
- In die lig van bogenoemde, volstaan die Algemene Sinode 2023 daarom met die besluit van 2019, en beklemtoon ons:
3.1 dat die huwelik as ’n lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou, ’n Godgegewe veilige ruimte is waarin die waardes van liefde en trou, wedersydse respek en versorging tot vervulling kom;
3.2 dat daar onder ons verskillende sieninge oor die status van selfdegeslagverbintenisse bestaan;
3.3 dat alle vorme van losbandigheid en promiskuïteit verwerp word;
3.4 dat daar ruimte geskep is vir kerkrade en predikante wat hul weg oopsien om burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag te bevestig, asook vir hulle wat nie hul weg daartoe oopsien nie.
- Die Algemene Sinode 2023 besluit derhalwe,
om in die uitvoering van hierdie besluit, dit nie net as ‘n etiese- of kerkregtelike kwessie te hanteer nie, maar in die eerste instansie pastoraal in gemeentes waar ons mekaar as medegelowiges liefhet, bemoedig en God saam wil dien.
- Die Algemene Sinode
5.1 wysig Artikel 32 van ons Kerkorde sodat dit sal lui:
“Die sinode word saamgestel uit afgevaardigdes van gemeentes wat geografies ‘n eenheid vorm en maklik vergader. Die groepering kan deur die Algemene Sinode/Algemene Sinodale Moderamen gewysig word op versoek van en met goedkeuring van die betrokke sinode(s)/sinodale kommissie(s).”
5.2 Gemeentes wat by ‘n ander sinode wil inskakel, doen aansoek by beide sinode(s)/sinodale kommissie(s) (vgl. voetnoot 1 wat dit oorweeg aan die hand van prosedures soos deur die Algemene Sinode/Algemene Sinodale Moderamen in oorleg met die Algemene Taakspan Regte vasgestel). Indien beide die betrokke sinodes/sinodale kommissies die aansoek goedkeur, word dit aan die Algemene Sinode/Algemene Sinodale Moderamen voorgelê vir goedkeuring.”
5.3 besluit om aan die hand van Artikel 45 van die inwerkingstelling van die wysiging op te skort onderhewig daaraan dat –
a. Die besluit verwys word na samestellende sinodes/sinodale kommissies om insette van hul te bekom ten opsigte van die prosedure vir die uitvoering van Artikel 32; en
b. die insette soos bekom deur die ASM in oorleg met die ATR goedgekeur is.
6. Die Algemene Sinode dra dit aan die Moderamen (ASM) op om:
6.1 in konstruktiewe gesprek met die samestellende sinodes oor ons besluit rakende selfdegeslagverbintenisse en hul hantering van die besluit, te bly; en 6.2 om die samestellende sinodes en ringe in daardie sinodes, konstruktief te ondersteun in hul verdere gesprekke met gemeentes, kerkrade, leraars en lidmate wat ’n behoefte daartoe het