Gespreksraamwerk: Die koninkryk is soos …. tien meisies – Matt. 25:1-13
Jesus is besig met Sy laaste gesprekke en fokus veral daarop om Sy volgelinge voor te berei vir die tyd wat kom wanneer Hy nie meer by hulle is nie. ’n Belangrike boodskap is dat, hoewel dinge nie maklik sal wees nie, Hy terug gaan kom en hulle daarvoor gereed moet wees.
Die einde van die wêreld soos ons dit nou ken gaan met die wederkoms aanbreek – Jesus gaan terugkom en alles gaan nuut gemaak word. Almal wat gereed is, sal saam met Hom hierdie nuwe wêreld bewoon.
- Blaai deur Matt. 24 om so die hoogtepunte daarvan te sien en lees dan Matt. 25:1-13.
- Telkens in Sy gelykenisse vertel Jesus dat Hy kom wanneer ons dit nie verwag nie, dat dit langer sal duur as wat verwag word – vs 5,13 (bv. ook 24:43,44,48, 25:19). Is ons nog regtig ingestel op Sy wederkoms?
- Die weiering van die 5 verstandige meisies om te help lyk op die oog af in stryd met christelike liefde, so ook die woorde van die bruidegom teenoor die meisies wat laat daar aankom. Is dit só of hoe moet ons dit verstaan?
- Die gelykenis (soos ’n hele paar ander) vertel van ’n skeiding wat by die wederkoms gemaak gaan word – mense wat oënskynlik tot die koninkryk behoort maar dan in 2 groepe verdeel word. Met watter woorde word die twee groep hier aangedui? Kyk bv. na vs 2,10,12.
- Gesels oor die volgende steling: “Die realiteit is dat daar onder die mense wat aan die kerk behoort ’n skeiding gemaak gaan word – sommige gaan ingaan saam met die Bruidegom en ander gaan buite bly.
- Die uiteindelike rede vir die skeiding vind ons in vs 12. Hoe moet ons dit verstaan? Kyk ook na Matt. 7:21-23, 2 Tim. 2:19, Joh. 10:26-28
- Om saam te vat gesels oor die volgende:
- Leef ek met die verwagting dat Jesus enige oomblik kan terugkom? Is ek gereed? Sal ek ingaan saam met die bruidegom? Ken Hy my?
- Tweedens – ek moet sorg dat die mense om my hierdie dinge weet en gewaarsku is… en hulle help om gered te word.