Ef 5:21-33 ‘n Huwelik gebou op Eerbied vir Christus onder die Invloed van die Gees

Uitkomste: Ons verstaan wat dit beteken dat Christus ons so liefgehad het dat Hy om ons ontwil Sy lewe as ‘n offergawe gegee het. Ons verstaan ook wat dit beteken om vervul te wees met die Heilige Gees. Ons verstaan verder ook wat beteken “eerbied vir Christus” en wat is “onderdanig wees”. Wanneer ons al hierdie dinge verstaan, kan ons Ef 5:21 gaan leef – om onder invloed van die Gees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig te wees. Ons gesels veral oor wat dit in die verhouding van huweliksmaats beteken.
- Ysbreker
- Wanneer en hoekom het jy die afgelope week die lekkerste gelag?
______________________________________________________________________________
- Inleiding
- Het julle al opgelet dat daar vrouens is wat dadelik op hulle hoede, en dikwels sommer opstandig is, as daar oor “onderdanigheid” gesels word. Hoekom dink julle reageer hulle so?
- Wat het julle gesien was die mans se reaksie as “onderdanigheid” aan die orde kom?
______________________________________________________________________________
- Teks – Lees Ef. 5:18-33
- Wat beteken die woorde in vs 18 “laat die Gees julle vervul”? Onthou dit staan as teendeel van “te buite gaan aan drank”. Kyk bietjie na ander vertalings om julle te help.
- Dalk is ‘n vertaling soos “moenie onder die invloed van drank kom nie, maar leef onder die invloed van die Gees” ‘n goeie weergawe?
- Een van die gevolge van “onder die invloed van die Gees” leef, is vs 21. Hierdie vers is die opskrif en vertrekpunt van die hele res van gedeelte van die brief wat handel oor verhoudings (5:22- 6:9) nl. man en vrou, kinders en ouers, eienaars en slawe. Dit is dus van die allergrootste belang dat ons die vers reg verstaan.
- Wat beteken “uit eerbied vir Christus” Kyk na ander vertalings en maak ‘n lysie van ander woorde wat gebruik word.
- Wat beteken “aan mekaar onderdanig? Kyk weer ander vertalings en maak ‘n lysie van woorde wat gebruik word. Kyk daarna ook na gedeeltes soos Fil. 2:3-7; Rom. 12:10; 1 Petr. 5:5
- Hoekom gebruik Paulus “eerbied vir Christus” as motivering vir die voorskrif van onderdanigheid?
- Kom ons gesels eers oor die manne! Lees Ef 5:25-30. Gesels oor wat julle hier opval. Onthou wat hier beskryf word is die man se aandeel aan “uit eerbied vir Christus onderdanig aan mekaar…!!.”
- Lees nou Ef. 5:22-24. Dit beskryf die vrou se aandeel aan “uit eerbied vir Christus onderdanig aan mekaar”. Gesels oor wat julle hier opval.
- Wat beteken “hoof van die vrou”. (ander vertalings… maak seker julle lees ook The Message). Het die man ‘n bevoorregte posisie? Of het dit te doen met ‘n verantwoordelikheid voor die Here en soos die Here?
______________________________________________________________________________
- Toepassing
- Is dit reg om saam te vat met: “Man en vrou onderanig aan mekaar – elkeen op hulle eie manier en vanuit ‘n eie posisie?
- Watter verskil gaan dit maak dat man en vrou se optrede nie meer gemotiveer word deur die lewensmaat se optrede nie, maar deur ons eerbied vir Christus?
- Teen die tyd is dit seker duidelik hoekom dit so belangrik is dat die Woord dit alles toeskryf aan “onder die invloed” van die Gees leef!?