Gesels oor Hebr. 12:14 wat sê: Beywer julle ….. vir ’n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie.
Sê eers weer wat beteken “heilig”. (“heilig” beteken: om afgesonder vir God, anders as die ander (die wêreld), volkome tot Sy beskikking te wees)
Die verband tussen ’n heilige lewe en redding kan soos volg verduidelik word: “’n Heilige lewe is die outomatiese gevolg wanneer iemand deur geloof die Here Jesus aanneem en die ewige lewe ontvang – jou sondeskuld word afgeskryf, die Heilige Gees maak jou ’n nuwe mens en kom woon in jou, en begin dan die werk in jou om jou lewe heilig te maak…. Indien die heilige lewe ontbreek, is dit dus ’n teken dat die Gees nie in jou lewe is en jy dus nie aan Christus behoort nie (Rom 8:9) en dus ook nie vir God sal sien nie.” Hoe dink julle daaroor?
Hier is ’n paar gedagtes oor hoe ’n heilige lewe lyk. Lees dit goed deur en gesels oor dit wat julle opval of aanspreek of onduidelik is. Moedig mekaar aan om by die huis verder hierdie gedagtes te bestudeer en teksgedeeltes te kry wat elke punt bevestig.
Om heilig te wees is ’n leefstyl om soos God te dink, in ooreenstemming met wat ons oor Hom in die Skrif deur getroue studie en saamwees met ander gelowiges leer.
’n Heilige lewe is om met eerbiedige onderworpenheid reserweloos gehoorsaam aan God te wees.
’n Heilige lewe is om soos God oor sonde te voel en ten alle koste alle sonde te vermy.
’n Heilige lewe is om met matigheid en selfverloëning te leef, met ’n diep bewustheid van ’n sondige natuur wat beheer, vasgebind en gekruisig moet word, wetende dat dit enige oomblik kan losbreek.
’n Heilige lewe is om met ’n rein hart en met waaksaamheid alles te vermy wat vuil en onrein is. en wat dalk kan meebring dat jy ingetrek word daardeur – wetende dat jou hart soos droë houtjies is en alle vonke van versoekings vermy moet word.
’n Heilige lewe is om nooit vrede te hê met sonde in jou lewe nie, maar inteendeel dit te haat, daaroor te treur en te smag om daarvan vry te kom.
’n Heilige lewe se grootste ambisie is om soos die Here Jesus te wees.
’n Heilige lewe is om die vrug van die Gees te dra deurdat Hy liefde, vreugde, vrede geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing in jou laat groei.
’n Heilige lewe is om met goedheid en christelike liefde, met ’n gees van genade en goedgesindheid teenoor ander te leef en aktief betrokke te wees om in hulle lewens ’n positiewe verskil te maak.
’n Heilige lewe is om met nederigheid te leef en ander dus hoër te ag as jouself – om meer gebreke in jou eie hart as in ander om jou raak te sien.
’n Heilige lewe is om getrou wees in alle verantwoordelikhede en verhoudings – nie slegs om dit maar soos die ander te doen nie, maar beter, omdat dit vir God gedoen word en Sy Gees jou help.
’n Heilige mens leef in diep ontsag en bewondering vir God, soos ’n kind wat in die teenwoordigheid van jou heilige, liefdevolle Vader leef en alles vir Hóm wil doen omdat jy lief is vir Hom.